Monthly Archives: July 2008

Kerberos


Kerberos

die swart hond snuif
koppig aan my skene
die blink van sy oë
weerkaats in my ruite

op hoë honger bene
en asem
wat na ou vleis stink
hou hy wag daarbuite

wag hy dat ek uit moet kom
en uitkom is ‘n moet
want ek sal netnou voor moet gaan
in eie lanferstoet.

        Joop Dullaart 20 Des 2004

Advertisements

2 Comments

Filed under Uncategorized

 
        Gister 

        Daar is ‘n verre land,
        ‘n Land van lief en leed,
        Waarvan ons veels te veel onthou,
        En bitter min vergeet. 

        Daar is ‘n verre land,
        In ruimte en in tyd,
        En soveel wat ons daarin doen,
        Lei net tot selfverwyt. 

        Daar is ‘n verre land,
        ‘n Land van spieël en glas,
        Die stempels in ons paspoort wys,
        Dat ons eens burgers was. 

        Na daardie verre land,
        Bestaan geen roete meer,
        Paspoort en visum het verval,
        En daar is geen terugkeer. 

                    Joop Dullaart 7 januarie 2008

2 Comments

Filed under Uncategorized

Herinnering

 
Geologie

Uit die oervuur van Prometeus
kristalliseer kontinente,
verrys berge,
verdiep valleie.
Hooglande verweer
om in nuwe seë
as sedimente te hergroepeer
wat laag op laag versteen
en so herinnering
vir ewig preserveer.

        Joop Dullaart 20 Des 2007

3 Comments

Filed under Uncategorized

Aardverwarming?

Ek sien in gister se Die Burger se voorblad en in vandag (30 Julie 2008) se hoofartikel dat ons nou pens  en pootjies op die Aardverwarmingswa geklim het. Met sprake van koolstofbelasting en sekwestering van koolstof wat deur kragstasies afgegee word.

‘n Hele nuwe nie-produktiewe burokrasie en industrie om inflasie op te stook tot nuwe hoogtes.

Ek merk op dat daar in die algemeen, waar aardverwarming ter sprake is, geen onderskeid getref word tussen besoedeling, vermorsing van hulpbronne, aardverwarming en die mens se bydrae tot aardverwarming nie. Al hierdie goed word oor een boeg gegooi, naamlik Mensgedrewe Aardverwarming.

Daar in ‘n goeie saak uit te maak vir beheer oor besoedeling. So ook om konserwatief om te gaan met fossielhulpbronne vir energie.

Ons moet deeglik kennis neem van aardverwarming en hoe om daarop te reageer. Ons moet ook verstaan hoe ons bydra tot aardverwarming, en indien dit ‘n wesenlike faktor is, hoe om dit te beperk.

My persoonlike mening is dat die mens se bydrae tot aardverwarming onbeduidend is, en dat enige pogings om dit te bekamp ‘n vermorsing van tyd en geld sal wees, wat die ekonomiese groei verder sal vertraag en  wat die doelwitte om die armes op te hef, verder op die langebaan sal skuif.

Iemand moet nog aan my verduidelik hoe CO2 as “kweekhuisgas” bydra tot aardverwarming.

Soos ek die kweekhuiseffek verstaan, werk die atmosfeer soos ‘n reservoir van warmte om die aarde.

Sonenergie dring byna ongehinderd deur die atmosfeer en verhit die aardoppervlak. Dis belangrik om te besef dat die Son die enigste wesenlike energiebron is. Die verbranding van fossielbrandstowwe, die hitte opgewek deur kernenrgie en die aarde se inherente warmte is weglaatbaar.

‘n Deel van die inkomende energie word net so weerkaats en het geen effek nie.

Die oppervlak is nou warmer as die buitenste ruimte, en gee dus hitte af eerstens deur konveksie wat die atmosfeer verwarm, tweedens deur uitstraling. Hierdie uitstraling is teen ‘n langer golflengte as die inkomende energie en word deels deur die atmosfeer geabsorbeer.

Aangesien die atmosfeer deur uitgaande energie verwarm word, word die verlies aan warmte vertraag, en dus bly die temperatuur van die aardoppervlak hoër as wat dit sonder die atmosfeer sou gewees het.

Ek wil weet wat is die bydrae van CO2 tot hierdie atmosferiese “kombers” – waar CO2 slegs sowat 0.036% van die atmosfeer uitmaak. Hoeveel energie kan deur so ‘n klein volume CO2 geberg word?

Waterdamp in die atmosfeer en wolke in die lug blyk ‘n veel groter invloed te hê – plus ‘n magdom ander faktore waaroor ons geen beheer het nie.

Verwysings:
http://www.physicalgeography.net/fundamentals/7a.html

The Chilling Stars deur Henrik Svensmark en Nigel Calder (ICON Books 2007)

Leave a comment

Filed under Uncategorized

Die Resensie

In vanoggend (Maandag 28 julie) se Die Burger is daar ‘n taamlike negatiewe resensie oor twee romans van Joan Hambidge: Kladboek en Palindroom.

Die resensie is deur die Nederlander Hans Neervoort.

Hier is enkele aanhalings:

“Het liefdesverhaal is echter maar een deel van beide romans. een groot deel erven wordt in beslag genomen door verwijzingen naar, besprekingen van en kommentaar op literatuurwetenschap, psychoanalyse, tarot en film. Intertekstualiteit is daarin een belangrijk element. Die is zo overheersend aanwezig dat je je temidden van een omgevallen boekenkast waant.”

asook

“In het huis van de literatuur zijn vele woningen waarvan sommige aantrekkelijk zijn ingericht, of ze nu modern of klassiek, luxueus of sober zijn. Maar als de woning alleen maar gebruikt wordt om als expositieruimte te diene voor foto’s, diploma’s getuigschriften, krantenknipsels en souvenirs, ben je er als buitestaander snel op uitegeken. De romans wekken de indruk dat de vertelster indruk wil maken op de lezer. Er wordt geëparteerd met kennis en kunde.”

Dit herinner aan ‘n versie wat ek jare gelede gemaak het:

droogte

belese en erudiet
suig die digters,
meesters op woordspelgebied,
aan die intellektuele muse
se uitgedroogde tiet
              Joop Dullaart
 

1 Comment

Filed under Uncategorized

Love Story

Vroutjielief sleep my toe mos Saterdaggoggend fliek toe – verbeel jou Saterdagoggend – dis mos wanner die gras gesny moet word en Die Motor gewas moet word!

Nogal ‘n Love Story! (dis nou die movie maar darem tussen my en V. óók)

Die (anti)hero is so ‘n sad, Woody Allen-rige outjie wat elke dag sy tassie vat ek gedwee werk toe gaan – En toe kom daar Die Meisie in sy lewe.

Met so ‘n gladde lyfie en sielvolle, sexy kom-bed-toe-oë. En net daar blom die romanse deur dik en dun.

Ondanks alle gevare en teenspoed, is daar ‘n happy ending!

Gaan kyk gerus …

Also sprach …. vuurklip.

Leave a comment

Filed under Uncategorized

Mosterd na die (verjaardag)maal

 

    die oubaas is ons groot indoena
    ‘n vryer en ‘n bobaas soena
        hy het toe gaan wei
        in ‘n ander kontrei
    want daar is die Graça mos groena

6 Comments

Filed under Uncategorized

Wie is stupit?

Wie is stupit – net ek of die wêreld?

Vanaand (Saterdag 26 Julie 2008) se 8-uur movie op e.tv:

The league of Extraordinary Gentlemen

Hoe kan ‘n suksesvolle akteur soos Sean Connery homself met sulke nonsens inlaat? Hy kan tog nie nóg dommer as ek wees nie? En selfs ek kan insien watter bog hier opgedis word as “vermaak”.

Ongelukkig kan ek nie die hele verhaal hier opsom nie – het net die eerste paar minute gesien.

Die verhaal begin in 1899 (ja, toe die Ingelse Oorlog hier uitgebreek het!). Connery is Alan Quatermain (Rider draai in sy graf om) en hy word saam met Captain Nemo (Jules spin ook) asook die Invisible Man (HG dolwe seker ook die grond om – die begraafplaas lyk seker soos ‘n bouperseel) gewerf om ‘n dreigende oorlog teen die Duitsers te voorkom.

Nou waar de hel was die spul net ‘n paar jaar later in 1914?

Swak Piketberg!

2 Comments

Filed under Uncategorized