Die Kissie

Die Kissie.

Die son bak wit op die binneplein – wit soos die skulp van ’n Josefslelie, wit soos ’n sluier. Kleur is uitgewas onder die genadelose son.

Daar is ’n outomatiese skuifdeur vir aflewerings en ontvangstes.

Die man by die toonbank van die kraaminrigting kyk uit op die binneplein, hy sien die hitte uit die sementblad opslaan in skitterende golwe. Hy sien die skuifdeur en die versengde wit sementblad. Hy sien dit maar neem dit nie in nie.

Buite hou ’n wit bakkie stil. Dis ’n gewone bakkie met ‘n logo op die kajuitdeur. Dis te ver vir die man om die logo uit te maak.

Die man sien hoe iemand uitklim en doelgerig na die skuifdeur loop. Agter hom skuif die deur toe.

Agter die toonbank werskaf twee nonne om sy rekening op te stel. Hulle blik en houding is vol deernis en blyke van meegevoel. Hulle gesigte is omlyn met die wit rand van die lanferswart habyt. Asof hulle voltyds in rou is.

Buite gaan die skuifdeur oop.

Die man van die bakkie kom tevoorskyn. Hy het iets wits onder sy arm. Dit lyk soos ’n kissie. Hy gooi dit argeloos agter op die bakkie.

Die man se vrou is die vorige aand ontslaan. Die dogtertjie was dood by geboorte. Sy was volmaak gevorm, swart haartjies, melkbleek vel – Sneeuwitjie ná die gifappel.

Die non het hom gewys op die wurgmerk wat die naelstring om die brose nekkie gelaat het.

Nou moet hy die rekening vir die bevalling betaal.

’n Non stoot die rekening oor die toonbank. Die man oorhandig sy kredietkaart – hy slaan geen ag op die bedrag nie. Hy wag vir die strokie wat geteken moet word. Dan kan hy weer terug na die woonstel waar sy vrou wag.

Die man teken die strokie. Hy sit sy kredietkaart terug in sy beursie en tel sy motorsleutels van die toonbank op. Hy hoor nie die non se groet nie.

Die verkeerslig is rooi, hy wag vir die groen lig. Opeens sien hy weer in sy geestesoog die skuifdeur wat oopgaan, hoe die man die kissie op die bakkie gooi.

“My God!” dink hy, “is dit die kissie?”

Foto:
http://farm1.static.flickr.com/113/295099828_58422c69ea.jpg?v=0

Advertisements

3 Comments

Filed under Uncategorized

3 responses to “Die Kissie

  1. loudavisi

    Ek se mos, ek verstaan niks meer nie!!

  2. loudavisi

    Oor jou vraag daar by my:Ek bedoel ek verstaan nie hoekom vrouens swanger raak en babas verloor nie.. wat kan die doel daarvan wees, behalwe om uiterste hartseer te beproef. Ek verstaan nie die dood, honger en lyding van mense nie.Ek verstaan maar min – so verskoon my onnoselgeit.Sien jy nou?

  3. skaawagter

    …onvergeetlik triest…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s