Die leeujag (vir Inshitnia)

Inshitnia se uitdaging

Die Leeujag

“Julle sal my nou nie glo nie. Julle dorpsjapies. Laat ek vir julle vertel van die keer wat ek mos ‘n krokkedêl en ‘n leeu met een skoot platgetrek het.” sê Oom Dawie.

Oom Dawie se plaas is net langs die die Krokodilrivier in die dae toe die  rivier nog sy naam verdien het.

“Daar was mos nou die leeu wat so onder my kallers gewei het. Al om die ander week was ‘n kalf leeukos.

“Ewentwel.” gaan Oom Dawie voort.

“Telkens volg ons die leeuspoor deur die veld tot by die rivier en net daar by die drif, raak die spoor in die water weg. Ons soek stroomop, stroomaf, weerskante van die rivier maar dis asof Ou Vuilbaard in die hemel opgevaar het, so ver het hy met die kalf geswem! Die honne kry ook niks nie, sit net op die oewer en tjank.

Ek sê toe mos vir ou Jonas om by die beeskraal te slaap sodat ons vroeër waarskuwing kry as die leeu se kallerlus te groot word. Die plan is om vinniger op Ta se spoor te kom, vóór hy weer in die rivier wegraak.

Díe slag waarvan ek julle nou vertel, hoor ons mos die kommosie vroegoggend by die kraal. Maar ou Jonas laat niks van hom hoor nie, so ons dink dis ‘n vals alarm.

Toe ek later die oggend by die kraal kom, is daar weer ‘n kalf weg, en ou Jonas ook! Spoorloos.

Ek kry toe al die plaasmense bymakaar en ons gaan soek. Weer loop die spoor by die drif dood. Maar voor ons die rivier oorsteek sien ons mos ‘n tamaai krokkedêl. Die grootste ondier wat ons ooit in daardie rivier gesien het.

Julle sal my nou nie glo nie. Julle dorpsjapies.” sê Oom Dawie.

“Net die krokkedêl se neus en oë steek bo die water uit. Ons moet hom skiet sodat ons die rivier kan oor anders vang hy ons mos. Maar hy moet uit die water uit anders word hy net gekwes en dalk kry ons nie weer kans om te skiet nie.

Ek sê toe vir klein Dawie – hy kan mos so hol en swem – om in die water te plas en die krokodil so kant nader te lok, tot hy op die wal is.

Julle sal my nou nie glo nie. Julle dorpsjapies.” sê Oom Dawie.

“Die krokkedêl is toe agter klein Dawie aan die rivier uit. En net daar op die wal, klits ek die reuse dier agter die blad met my ou Mauser. Deur die hart, morsdood. Een skoot.

Ek besluit om gou die krok af te slag en die vel solank huistoe te stuur, voor dit begin sleg word.

Julle sal my nou nie glo nie. Julle dorpsjapies.” sê Oom Dawie.

“Toe ek die krok oopsny, wat sal ek sien? Eers die leeu se maanhare. Sny verder en toe sien ek dat my koeël die leeu in die nek getref het, swaar gewond maar nog lewendig – maar teen die tyd dat ek die leeu heeltemal losgeny het, was leeu se kind ook bokveld toe. Ek slag toe maar die leeu ook af.

Julle sal my nou nie glo nie. Julle dorpsjapies.” sê Oom Dawie.

“Toe ek die leeu oopsny, sien ek eers ‘n kalf se kop – bedwelmd maar nog lewendig. Ons help toe die kalf versigtig uit maar dis asof die kalf se stert iewers vashaak. Ons trek versigtig om die stert los te kry en toe sien ons wat die probleem is. 

‘n Hand is om die punt van die stert geklem. Net bokant die stertkwas! Dis toe mos ou Jonas!

Julle dorpsjapies sal my natuurlik nie glo nie, “sluit Oom Dawie af, “maar dis die heilige waarheid.

Eendag vertel ek julle van die olifant en die seekoei.”

9 Comments

Filed under Uncategorized

9 responses to “Die leeujag (vir Inshitnia)

  1. pasella

    Dorpsjapie of te not, ek glo jou! Ek het die hele storie in die Huisgenoot gelees, uitgawe van 1 April Negentien Voetsêk!

  2. Grafsteen

    Hahaha! Skitterend!

  3. loudavisi

    Skitterend!

  4. TS

    hehehe… hier gooi jy met die hele vark

  5. INSHITNIA

    Dis nou vir jou so wragtig een van daai Jan Spies stories. Ek kon hom sweerlik hoor praat terwyl ek lees. Mooi man Vuurklip. ‘n High Five vir jou ook!

  6. rosiemetdorings

    kampvuurvertellings

  7. ludwig.heuer

    Ja nee … Hierdie is loshande die beste spekskiet storie van 2011 …

  8. CelesteDumas

    Sarel moet sommer platlê, newwermaaind sak! lekker:)

Leave a reply to CelesteDumas Cancel reply