Monthly Archives: September 2012

‘n Sprokie – soort van …

‘n Sprokie – soort van …

Eendag, láánk láánk gelede, was daar ‘n skulpvissie. Haar naam was Jean en sy het gelewe in die vlak waters van die Tethys-see. Hier het sy vrolik gesing, gespeel en gedartel: lá-la-lá-la-lá. (OK, skulpvisse dartel en sing nie, maar hierdie is ‘n sprokie, and anything goes).

Die Tethys het gevorm lank voor die Stille en die Atlantiese Oseane eers bestaan het. Hulle was inderwaarheid nog slegs ‘n glinstering in God se Oog.

Destyds was daar net een kontinent, naamlik Pangea, en die Tethys het dit omring en dis waar onse Jean gelewe het. 

Nou, ja, soos met alle dinge in die lewe, kom alles mettertyd tot ‘n einde. So het Jean dan ook die verlede met die ewige verwissel en haar skulpie het saam met talle van haar tydgenote op die seebodem tot ruste gekom.

Die jare het gekom, en die jare het gegaan. Pangea het opgebreek, nuwe kontinente oseane het gevorm, seebodems het droë land geword en berge het verweer en nuwe seebodems gevorm.

Die nuwe kontinente het later saamgekom en ‘n nuwe Super Kontinent gevorm (amper soos die ANC, Cosatu en die Kommies). Maar hierdie nuwe Gondwana was ook gedoem (amper soos die ANC, Cosatu en die Kommies) en het opgebreek. Nuwe kontinente en oseane hat gevorm. Regs het Australië weggedryf, links het Suid-Amerika weggebreek, en noordwaarts het Indië teen ‘n gevaarlike spoed (alle spoed is relatief) teen die Asiatiese kontinent gebots.

 
Onse Jean se fossieletjie het uitendelik in die White Cliffs of Dover op droë grond beland.

Vandag bots die Indiese motorbestuurders steeds teen alles wat nie gou genoeg padgee nie. Ons het ten minste twee dinge in gemeen met die Indiërs: Ons ry net so roekeloos en ons het ook Heilige Koeie. Ons heilige koeie word beskerm deur die fakers (lede van die FAK) terwyl die Indiese heilige koeie onder die beskerming staan van die fakirs (lede van die Indiese FAK). Dit klink of hulle aan die slaap is, maar as jy dit op Engels uitspreek, kry jy die idee.

In Oxford was daar ‘n wereldberoemde limnoloog: Professor Doktor Richard Dworkins (nie te verwar met die ewe beroemde Richard Dawkins). Dworkins was op soek na ‘n evolusionêre vermiste skakel – ‘n skakel tussen twee spesies van, ja, jy het reg geraai, skulpvisse. Met die wete dat Dover ‘n vrugbare bron van skulpfossiele moet wees, is dit waarheen hy hom begewe het.
By sy aankoms, sug hy: “I’m looking over, the white cliffs of Dover” en boek dadelik by ‘n plaaslike hotel in.

Die eerste dag grawe hy – maar sonder sukes.

Die tweededag grawe hy – maar weer sonder sukes.

Op die derde dag (in sprokies kom sukses altyd eers op die derde dag – soos met die Opstanding) vind hy ‘n besondere skulp.

Nog nooit het hy so iets gesien nie. Uiteindelik die missing link! Natuurlik is dit Jean se skulpfossieletjie.

Terug in Oxford word hy met gelukwensinge oorlaai. Almal vra dat hy sy aardskuddende ontdekking te boek moet stel. Hy swig onder soveel druk, en kort voor sy dood, veskyn sy lewenswerk:

The Shellfish Jean.

And they all lived happlily ever after – dis nou buiten Jean en Prof. Dworkins.

Advertisements

8 Comments

Filed under Uncategorized