Eendag was daar … ‘n Fabel

Hierdie verhaal het hom sowat ‘n honderd jaar gelede afgespeel in die uitgstrekte steppe van Kazakstan in Sentraal Rusland. Dis die verhaal van die KKK (Néé, dit het niks te make met die Klein Karoo Kunstefees nie, en ook nie met die Ku Klux Klan nie), en die Koelakke. Die KKK dus en die Koelakke.

Die KKK was die Kommunistiese Konyne Kollektief wat ‘n enorme warren in Kazakstan bewoon het. Die Koelakke was kleinboere wat besitreg op hulle grond gehad het. (Met die era van Stalin is die Koelakke uit genasionaliseer en die Konyne uitgeskiet. Hier by ons word die boere geskiet en die myne loop gevaar om uit genasionaliseer te word – maar dis ‘n ander fabel).

Die boere (lees Koelakke) het die konyne wreed onderdruk en gevolglik het die twee groepe in ‘n so-te-sê permanente staat van oorlog geleef. Die Konyne het gereeld die boere se groentetuine beroof waarop die boere wrede wraak-strooptogte op die konyne uitgevoer het.

Om stoom af te blaas en weer tot verhaal te kom ná die vrees en angs van die strooptogte, het daar talle konyne-kroeë in die warren ontstaan. Daar het die konyn-manne hulle vrese besweer en hulle avonture oorvertel. Een konyn, alom bekend as Leeu, was veral bekend vir sy aangedikte stories. Sy bynaam was juis te danke aan een van sy stories. Toe ‘n konyn eendag vertel hoe hy oor ‘n ses-voet muur moes spring om van die boer se honde te ontsnap, het Leeu hom getroef deur te vertel hoe hý oor ‘n tien-voet muur gespring het om van ‘n leeu te ontsnap. ‘n Ware konyne Münchhausen.

‘n Ander voorbeeld was toe ‘n konyn gespog het hoe hy ‘n reuse wortel gesteel het, die wortel was so groot dat twee konyne dit skaars terug kon sleep. Hierdie storie is oortref deur te vertel hoe die konyne Münchhausen ‘n pampoen gesteel het, dit was so groot dat hy die boer se trekker moer kry om dit terug te sleep. Weens al hierdie oordrywings was ons konyn dan ook bekend as ou Tallstory.

So het die jare verbygegaan en die lot van die konyne het al swaarder geword – en die boere het dit nie veel beter gehad nie. Leeu het besluit iets móét gedoen word. So kon dit nie aangaan nie.

En toe, saam met ‘n paar invloedryke konyne, het hulle in die geheim voelers uitgesteek na die boere wat uitendelik gelei het tot geheime samesprekings in Dakar en later selfs in Londen. Uitendelik, na moeilike onderhandlinge in die hoofstad, kon hulle tot ‘n vergelyk kom wat die onderdrukking en strooptogte tot ‘n einde gebring het.

Ondanks Leeu se reputasie, het hy ‘n leeue(!) aandeel gehad in die samesprekings en as gevolg van sy betrokkenheid van die begin af, het hy ‘n goeie oorsig oor die hele proses gehad. Later jare het hy dan ook besluit om die geskiedenis te boek te stel – hy het gevoel dat die gebeure nie vir die konyne-nageslagte verlore mag gaan nie.

So het hy dan potlood en papier nadergetrek en begin skryf, en skryf, en skryf. Uitendelik was die taak volbring en by ‘n uitgewer – wat opgewonde was oor die manuskrip, maar minder so oor die voorgestelde titel: Long road to Freedom. Uitendelik is die boek gedruk, en op Leeu se oudag, kry hy die eerste eksemplaar, die ink nog nat, in sy bewende hande. ‘n Boek wat hom wêreldberoemd sou maak en wat lank na sy dood nog gelees sou word. Met ‘n pragtig geïllustreerde buiteblad met die woorde:

Warren Peace deur Leeu Tallstory.

Advertisements

11 Comments

Filed under Uncategorized

11 responses to “Eendag was daar … ‘n Fabel

  1. loudavisi

    Skerp Vuurklip!Ek het hoeka gewonder wat van jou geword het.Groetnis.

  2. benvanbruggen

    Fabelagtig voorwaar.

  3. TS

    Lekker om jou te sienJy bly ‘n Meester

  4. HeavyHenry

    *groan*Eina.:-)

  5. vuurklip

    Jammer vir die pyn jou aangedoen!

  6. skaawagter

    Ek onthou n boek uit my prille jeug wat oor al die vyfjaarplanne van die Stalin-era gegaan het, oa was daar n groot plan dat almal konynboerderye moes aanpak….

  7. Pingback: A Russian Blow Job. |

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s