‘n Boek en Resensies II

Deel een is hier.

ester

Ek kom nou by die boek self, nl. Ester deur Kerneels Breytenbach. My kopie het ek by Amazon gekry.

Hierdie is bloot persoonlike indrukke en ek maak geen aanspraak op groot letterkundige analise en/of insigte nie. Hierdie is ook nie ‘n waarde oordeel nie.

Ek beskryf hier my reaksie tydens die lees van die boek en hoe dit deels veroorsaak word deur die positiewe resensies van Hambidge en Steinmair en die entoesiastiese uitroep van Hettie Scholtz: “Wat ‘n plesier. Wat ‘n leeservaring. Wat ‘n plot!” (soos te siene is op die boek se voorblad). Verder gee ek indrukke onder andere oor die “leeservaring“, die “plot“, die verteltegniek en dít wat my grondeloos geïrriteer het.

Wat ‘n Plot
Watter Plot? Ek soek nog die plot. Nee, jammer dis nie so erg nie. Daar is darem ‘n plot, so yl soos dit ook al is.

As jy iets soek met ‘n betekenisvolle plot kan ek die volgende aanbeveel. Daar is natuurlik talle goeie spioenasie romans, maar uit my beperkte leeservaring gee ek die volgende:
David Downing se Belynse Station romans.
Alan Furst
– Christopher Isherwood

Die gegewe:
Adjudant Offisier Bergman moet ‘n Duitse spioen (Mev. Denk) vanaf Windhoek per trein na Kaapstad vergesel. Tydens die reis mag sy met niemand in aanraking kom nie. In Kaapstad moet sy getuienis lewer oor Dr DF Malan se Nazi simpatieë. Die verhaal speel af op die treinreis tussen Windhoek en Kaapstad. Gaandeweg vereneem ons hoe Ester in die prentjie inpas. Ester se verlede word belig met enkele name droppings soos bv. Joachim von Ribbentrop.

Daar is talle ontmoetings tussen die spioen en ‘n sekere arrogante advokaat Doerkstra. Hy moet verseker dat haar getuienis nie die goeie dominee se Nazi simpatieë ontmasker nie.  Die ontmoetings vind plaas in die laaste kamertjie van die trein naamlik die verste toilet in die agterste wa. Waarom die ontmoetings juis daar moet moet plaasvind is sekerlik die enigste onopgeloste geheim in die roman. ‘n Meer opsigtelike vergaderplek is moeilik te versin. Die advokaat maak min vordering tydens die eerste reeks toilet ontmoetings en dit laat hierdie leser wonder waarom hy nie sterker optree nie en telkens nóg ‘n “vergadering” belê.

Verteltegniek:
Die eerste deel van die relaas word aan ons oorgedra deur ‘n alwetende verteller. Hy/sy weet wat die karakters weet, ervaar en dink. Die leser word vergas op die mees intieme goings-on in die toilet en veral die spioen se kompartement – in die mees grillerige pornografiese detail. Sien Erotiese hier onder. Dis in hierdie deel van die verhaal wat die meeste irritasies voorkom. Hierdie leser ervaar dit as ‘n mislukte poging om anders te wees.

Tydens die alwetende verteller se relaas vind ons enkele opmerkings in die eerste persoon – bv. “Dit weet ons nou”. Dit laat die leser wonder: Wie is dit wat nou weet?

In die tweede deel van die verhaal, lees ons ‘n nabetragting van die hele geskiedenis uit die oogpunt van een van die karakters. Hierdie deel van die vertelling is heelwat soberder en gestroop van al die foefies wat die eerste deel so ontsier.

Ons kry in hierdie deel ‘n dieper insig in die betrokke karakter se ervaring maar daar is steeds geen nuwe insigte vir die leser nie.

Wat ‘n Plesier! Wat ‘n Leeservaring
Die leeservaring vlot eenvoudig nie. Daar is talle eienaardige woorde, vreemde of onlogiese metafore, alternatiewe terme vir gewone konsepte, lagwekkende eufemismes. Dit ruk hierdie leser telkens tot stilstand om nou eers agter die kap van die byl te kom of om van grilligheid en irritasie te herstel.

Metafore/Vergelykings/Beskrywings:

  • “… gelukkig … as ’n otjie in slymgrond…”
  • “…die staalkas met wiele” – ‘n Motorkar.
  • “…sy bene wawyd oopgespalk asof hy deur sy bekken asemhaal.”
  • “Doerkstra voel die wilde rot van jaloesie aan hom knaag.”
  • “…besig om die minute af te knaag…”
  • “…kom die stasie-eetplek binne met al die aplomb van ons Hemelse Boukontrakteur se sekuurste loodlyn.”
  • “…’n woeste glimlag wat die spoeg laat spat.” – Werklik? ‘n Spoegspattende glimlag?
  • “Sy vlam vir eers jintemal geblus.”
  • Skarniere vir die gedoente van balans en beweging” – heupe
  • “Hy trek sy servet van sy skoot af en maak sy mond skoon, driehonderd en sestig grade.
    Jirre, kan die man dan nie net sy mond afvee nie?
  • “Doerkstra kan nie help om raak te sien dat hulle halfpad deur hul eie afranseling van die hoop kos voor hulle is nie.” ‘n Afranseling is ‘n drag slae. En hier word kos afgeransel?

Eufemismes:

  • “… ’n broekie met delikate valletjies voor haar blom.”
  • “…swaaiende familietrots…” – Bergman se ereksie.
  • “…Dan prop hy die klein konstabel terug in sy onderbroek…”
    Ja, nè? Die konstabel het ‘n konstabeltjie.

Alternatiewe Terme:

  • “Pretoria-platpote” en “ploerte”
    Onnodig perjoratief vir twee konstabels wat hulle pligte nakom. Nêrens in die teks is daar regverdiging vir hierdie terme nie.
  • “…stasieblompotte…” – Spoorwegamptenare.
  • “fraaifrikkels.” – Huh!?

Die Erotiese (In grillerige, pornografiese detail):

  • “…haar bobene pragtig omhul is deur die rok wat sy gedra het…”
    Beide Doerkstra en Bergman is telkens bewus van o.a. die spioen se “gespierde bobene” en weerbarstige borste. Of dalk is dit die “alwetende” verteller se fetish?
  • “…die AO wie se familietrots heerlik lug kry, swaaiend soos dit is, en soms danksy die vertroetelende hand van Ester.”
  • “…haar hande wegrem voor haar geslag, en haar dan met een magtige pomp binnedring, homself in haar in lanseer…”
  • “…die geile swaai van die heupe, die gespierde hale van haar bobene, die manier hoe sy haar borste lig, skouers terugtrek.”
  • “Die manier waarop mevrou Denk haar bene vooruitstoot, haar bobene so grasieus gespierd, die sterk enkels wat in die swaai onder die soom van haar rok sigbaar word, die heuglike glibberigheid van haar heupe onder die swart materiaal, die mag van haar arms, en die ekstase van haar borste wat met elke asemhaling uit haar rok opwel ” – Gespierde enkels, heupe, bobene, ekstatiese borste tot vervelens toe. Oor en oor en óór.
  • “…”sy nou reeds geswolle en deeglik herstelde juweel in haar hand neem en dit begin bewerk…”
  • “Sy neem hom in haar een hand, punt hom ten hemele. Die ander vou om sy klootsak.”
  • Die trein skommel, Bergman en die spioen skommel, soms skommel sommer alles saam – en tydens een episode terwyl sy haarself by die wasbak reinig, moet sy aan Bergman se ereksie vasgryp om nie al skommelend haar balans te verloor nie.
  • En hierdie leser wil nie weet van Bergman se onderbroeke nie. Skoon of andersins. Too much information. Less is more.
  • Suggestie werk véél beter as eksplisiete beskrywings – tensy jy grillerige pornografie verkies.

Vreemde Woorde/Woordgebruik:

  • “…terwyl hulle die hele verdatste lengte van die trein…”. Verdatse? En dit van ‘n skrywer wat nie skroom om hare dosse, ereksies, suigende organe en veel meer om die hawerklap rond te strooi nie?
  • kloos” – Toilet. Die Nederlandse digter Willem Kloos draai in sy gaf om. Dis nie in een van my woordeboeke nie.
  • “…die man wat met die sielige bystand van Theo Erasmus…”
    Sielig? Is die dominee bjammerenswaardig? Bedoel die skrywer dalk dat die dominee die mense se siele bystaan? Die teks is dubbelsinnig en hierdie leser vermoed dis ‘n foutiewe woordgebruik.
  • “En die toon tog ook bonhomies!”
  • “Hy gryp sy paraffiendonkie, steek dit vir haar aan.” – Sigaretaansteker, met paraffien gevul?

Dialoog:

  • Die geprek tussen Doerkstra en die kelner op die (De Aar?) stasie doen geforseerd aan en is in sy geheel ongeloofwaardig – veral omdat die arrogante Doerkstra sonder om terug te kap die kelner toelaat om hom (Doerkstra) te beledig met etikette soos: “o Gees wat Wandel“, “Mandrake“, en “Errol Flynn“.
  • Ander stukkies dialoog laat telkens die gevoel van uitgedink (contrived) te wees en kom onnatuurlik voor. Bv. Doerkstra: “Ag nee liwe Vader ons!” – heeltemal buite die arrogante advokaat se karakter.

Kennis van Musiek:

  • Die resensente verwys na Breytenbach se uitgebreide kennis van populêre musiek. Die kom ongelukkig nie in die teks na vore nie. Blote name dropping van randfigure in die verhaal soos onder andere Hendrik Susan, Chris Blignaut en die Comedian Harmonists doen weinig meer as om vervelige tonele in die trein se eetsalon effe op te kikker.

Maar moenie my woord hiervoor aanvaar nie!

Lees sélf die boek: “Wat ‘n plesier! Wat ‘n leeservaring! Wat ‘n plot!”

Advertisements

25 Comments

Filed under boeke, books, literature

25 responses to “‘n Boek en Resensies II

  1. So baie resensies vertrou ek gladnie – ek weet van skrywers wat hulle eie boeke op Amazon sterre gee en ander skrywers afkrak. Kan en wil nie se dit gebeur hier nie maar ek dink ek hou van jou resensie. In n n toilet? Aggenee hoe bizarre. Dit sal my ooknie die boek laat lees nie, nie dat ek van plan was nie 😉 Ek verkies nog steeds boeke wat beskaafd klink. Volgende op my to read lys is All the light we cannot see.

  2. Ek wou nie my onkunde so openlik wys..maar vir iemand in die huis gevra wat is die rooi afbeelding onder Ester se gesig. Ek is nogal dankbaar oor hierdie resensie, het my verkneuker oor die 360 grade se mond afvee !

  3. Ek wonder mos nou hoekom wil afrikaner skrywers anders wees? Dis die lesers wat dalk nog nooit n goeie boek in n ander taal gelees het nie? So half common 😦

    • Anders en soms oervervelig. Soos AP Brink se Duiwelskloof en Phillida. Om nie te praat van Etienne van Heerden se Die Swye van Mario Salviati nie. In laasgenoemde gee die skrywer hoog op oor Bernouilli waarvoor hy spesiaal Frankryk toe is maar die bietjie inligting daaroor kon hy in enige ensiklopedie gekry het.

      • Dis die ding! As skrywers enige geskiedkundige inligting wil gebruik moet hulle dir deeglik nsvors, en nie oppervlakkig nie. Ek dink bv aan Philippa Gregory wat n meester is met feite was nagevors word en dan kan sy n fiksie novelle skryf. Ek is ooknie vreeelike groot fan van Brink nie, heyt paar lesins by hom gehad maar sy atitude! Ek het baie respek vir Daleen Matthee gehd.

  4. Ek dink die skrywers wat mekaar se boeke resenseer is ‘n kliek wat mekaar se albasters poets. Ek het jou resensie geniet, nog nie die boek gelees nie. Sal dit beslis nie koop nie.Manlike skeywers lyk dit my probeer kreatief humoristies wees met eufemismes vir die manlike parte. Deon Meyer noem dit bv ” ‘n karnallie”

  5. Pingback: ‘n Boek en Resensies I. | vuurklip

  6. So pas die boek gelees. Wat my geirritteer het is slordige redigering wat foute soos nouveau ipv niveau, alumnis ipv alumnus deurlaat.

  7. Ek het die storie geniet. Die ‘politieke’ detail het my nie aangegaan nie omdat ek te min daarvan weet.
    Die laaste deel was ietwat onnodig, dalk nie?
    Ja, die oormaat seks was daar, die tyd op die trein het imners lank geword.

  8. O Griet! Nou praat ek nie meer nie! Dis darem maar nie lekker om sulke opgeblaasde beskrywings te lees nie. Ek het op einde nie eers al jou voorbeelde gelees nie. Voel sommer of ek die boek deurlees. Ek is te preuts om regtig sulke boeke te geniet. Jy het my beslis oortuig om dit nie te lees nie.

    • Hmmm. Dit was vir my maar ‘n grillerige en hoogs irriterende leeservaring en dit verbaas my dat “professionele” resensente so hoog kan opgee daaroor sonder om hoegenaamd enige negatiewe aspekte te noem. So asof al dié in die klein Afrikaanse Letterkundige Binnekringe (met hoofletters!) mekaar moet ophemel. The word incestuous comes to mind.

  9. Ek gaan beslis nie die boek lees na hierdie resensie van jou nie.Al die voorbeelde wat jy genoem het,laat ‘n effe wrang smaak.Ek kry ook die gevoel dat daar baie propaganda vir sekere skrywers gemaak word.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s